Graad 1 Aktiwiteite
SPORT:
RUGBY:
Leerders by die skool maak in gr R kennis met rugby en maak ook deel uit van die liga waar “Tag”- rugby gespeel word.Daar word ook aan verskeie toernooie deelgeneem onder andere in Virginia, Nelsdrif en die Boertjiefees op Bultfontein.Naudeville beskik oor ervare afrigters wat ook op provinsiale gebied hul merk gemaak het.
NETBAL:
Die dogters begin in Februarie reeds met netbal om balvaardighede aan te leer. Daar word gepoog om twee spanne per ouderdomsgroep te kies wat vriendskaplike wedstryde teen ander skole speel. Daar word ook aan verskeie toernooie deelgeneem.
ATLETIEK:
Gr 1-leerders neem die eerste week al aan die skool se kleurbyeenkoms deel. Die 0/7’s en 0/8’s neem almal aan die 60- en 80 meter naellope deel.
Ons neem aan byeenkomste by Nelsdrif, Koppie Alleen, Welkom Volkskool en Bedelia deel. Die atlete wat goed vaar, neem deel aan die Sirkelbyeenkomste.
KRIEKET:
Leerders het vanaf gr 1 die geleentheid om mini-krieket te speel. Hiervoor het hulle geen toerusting, behalwe hulle Naudéville sportdrag, nodig nie. Krieket word gedurende die derde en vierde kwartaal aangebied, gewoonlik direk na skool, ‘n tyd wat die meeste gr 1-leerders pas.
LANDLOOP:
Ons landloopatlete kry geleentheid om gedurende die landloopseisoen, wat strek vanaf Maart tot Augustus, kragte te meet met die beste in die Vrystaat.
Leerders kan vanaf 0/7 aan landloop deelneem.
TENNIS:
Daar is groot belangstelling onder die gr 1-leerders vir tennis en dit is kosbaar om hierdie kleintjies se geesdrif en entoesiasme op die tennisbaan te aanskou!Die graad 1-leerders ontvang afrigting by die skool en speel al gedurende die derde kwartaal ‘n paar vriendskaplike wedstryde.
SKAAK:
Die belangrikheid van skaak om die leerders se dissipline en konsentrasie te verbeter, is baie groot. Jaarliks word daar in verskeie afdelings van die liga deelgeneem.
Leerders kan vanaf graad 1 deelneem en ding mee in die junior liga.
HOKKIE:
Die graad 1-leerders kan die derde kwartaal aan minihokkie deelneem.
KULTUUR:
VCSV:
Die leerders kry elke Woensdag die geleentheid om deel te neem aan die VCSV (Verenigde Christelike Studentevereniging). Die VCSV is ‘n interkerklike organisasie.
Gedurende die VCSV-byeenkomste word die Woord van God op aanskoulike, interessante en ontspanne wyse aangebied. Daar word ‘n uitgewerkte program deur die jaar gevolg, dit sluit speletjies, ‘n piekniek of twee, asook diens aan die gemeenskap (soos insameling van klere en nie-bederfbare voedsel vir minder bevoorregtes) en diens aan ons skool en ouers in.
Leerders leer hier om op ‘n tasbare wyse om te gee vir hul naaste en om uit te reik na hul wat minder bevoorreg is.
“MAMMA”S WAT OMGEE:
Ons het ‘n groepie ma’s wat gereeld voorbidding doen vir ons leerders, ouers, personeel- en hoof van die skool.
GODSDIENSONDERRIG;
U is bewus van die polemiek wat geheers het oor Godsdiensonderrig in skole. Byna al ons leerders is Christene. Ons stel weekliks ‘n periode beskikbaar vir Godsdiensonderrig. Daar word alternatiewe gereël vir ouers en leerders wat ‘n probleem hiermee het.
INTERNET:
Toegang tot inligting wêreldwyd is tot die beskikking van elke opvoeder om tot die voordeel van die leerders aangewend te word.
BIBLIOTEEK:
Die skool beskik oor ‘n biblioteek waar leerders inligting vir take en opdragte kan bekom. Nuwe boeke word ook gereeld aangekoop en sodoende word daar verseker dat die inligting wat leerders benodig, op datum is.
KOOR:
Ons skoolkoor bestaan uit leerders vanaf gr 1 tot gr 7. Hierdie leerders is baie entoesiasties en oefen elke Dinsdagmiddag lekker saam. Daar word ook by die skool se prysuitdeling, kerkdienste en graad 1-dag opgetree.
Die leerders het Woensdae ‘n sangperiode waartydens daar lekker saamgesing word.
REDENAARS:
Gr 1-leerders kan vanaf die eerste kwartaal by die skool se redenaars inskakel.
Hier word leerders geleer hoe om toesprake met selfvertroue voor gehore, te lewer. Redenaars word een keer per week, na skool aangebied.
Hulle neem reeds in graad 1 deel aan kompetisies, soos ATKV en KANSA en die skool se redenaaraande en interne kompetisies.
EDUKWANDA:
Alle grondslagfase-leerders ontvang EDUKWANDA. Dit word twee keer per week vir 30 minute aangebied.
Gedurende die eerste kwartaal word die volgende deur middel van spel gedoen:
Balans, lateraliteit, liggaamsbewustheid, koördinasie, ruimtelike oriëntering, groot motoriese ontwikkeling en ouditiewe ontwikkeling.
Die program behels ook die basiese aanleer van tennis, netbal, rugby, sokker, hokkie, sagtebal, krieket en gholf.
ENTREPRENEURSDAG:
Ons lewe in ‘n tyd waarin kinders geleer moet word om self vir hulle werk te skep. Daar word een keer per jaar ‘n entrepeneursdag gehou waar die leerders die geleentheid het om handel te dryf. Al die leerders van die skool neem deel, ook die gr 1-leerders.
NASKOOLSE STUDIEKLASSE:
Elke middag vanaf 12:30 tot 17:00 word daar studieklasse deur ‘n privaat persoon op die skoolterrein bedryf. Leerders kan hier onder toesig studeeren besig gehou word tot die ouers hulle na werk kom afhaal.
Indien u u kind inskryf by die studieklas is bywoning verpligtend, mits ander skriftelike reëlings deur die ouers getref word. Afwesighede moet ook aangemeld word. Twee klaskamers word gebruik vir studies en ‘n derde klaskamer vir ontspanning met verskeie speelgoed asook ‘n TV. Studiegelde is vooruitbetaalbaar.
KLEREWINKEL:
Die skool bedryf sy eie klerewinkel op die terrein. Alle skoolklere, wat eie aandie skool is, word hier verkoop. Die tye van die winkel is daagliks vanaf 9:00- 12:00.
REKENAARSENTRUM:
Stimulus Maksima bedryf‘n rekenaarsentrum by die skool. Al die leerders vanaf graad 1 het 2 keer per week rekenaars. Die koste beloop R50-00 per maand.
MODELLEERDERS:
Daar word weekliks in elke klas , ‘n modelleerder gekies wat Maandae gedurende saalperiode aangekondig word. Modelleerders dra dan die lapelwapentjie vir ‘n week. Sodra ‘n leerder drie keer in dieselfde jaar ‘n modelleerder was, ontvang hy/sy ‘n T-hemp wat dan Vrydae, saam met ‘n blou denim, skool toe gedra kan word.
KRITERIA VIR DIE KIES VAN ‘N MODELLEERDER:
1. Gedrag in die klas, op die stoepe en gedurende pouses.
2. Netheid van werk, in die klas asook persoonlike netheid, wat korrekte skooldrag insluit.
3. Voltooiing van werk (huis- en klaswerk)
4. Hulpvaardigheid, goeie maniere en respek teenoor onderwysers en maats.
5. Gehoorsaamheid.
6. Aanvaarding van dissipline en hou by klasreëls.
7. Goeie taalgebruik (nie vloek nie).