Graad 7 - Toer - Tuinroete
Graad 7 opvoedkundige toer na Grootvoet- en Volstruiswêreld
‘n Groep van twintig leerders het vanaf 26 Junie tot 30 Junie die pragtige Oos-Kaap besoek. Ons het vroeg Sondagoggend van die skool af vertrek en teen die tyd wat ons behoorlik wakker was, was ons al in die Karoo. Ons het op Graaff-Reinette die kans gehad om foto’s van die pragtige kerk te neem. Die berge op pad na George was asemrowend.
By De Denne (ons slaapplek) aangekom, was almal doodmoeg en het ons net genoeg tyd gehad om uit te pak en in die bed te spring.Ons was Maandagoggend vroeg wakker en baie opgewonde, want ons het met kano’s gaan roei op die rivier by Wildernis. Die rivier kronkel tussen die berge en dit was ongelooflik mooi. Die roeiery was baie harde werk! Ons het ‘n nieamptelike kompetisie gehad, wat mnr. Hendrik natuurlik gewen het!
Daarna is ons na die Knysna Olifantpark, waar ons baie oor olifante geleer het. Ons het hulle ook gevoer en foto’s geneem. Die baba olifantjies is te pragtig vir woorde. Dieselfde middag is ons met ‘n boot oor die Knysna meer na waar die Knysnarivier in die Indiese Oseaan uitmond. Ons het ook met ‘n treintjie teen die berg opgery na die koppe. Die toergids het ons van die omgewing se fauna en flora vertelen ook van diue kleinste bokspesie in die wêreld nl. Die Blouduiker. Ons kon afklim en foto’s neem van die kruin van die berg af. Die uitsig was prentjie mooi. Daarna is ons terug De Denne toe en het na aandete doodmoeg in ons beddens neergeval.
Die Dinsdagoggend het ons met nog ‘n treintjie teen die Outeniquaberg opgery. Ons het ook ‘n heerlike piekniek op die berg geniet. Na ete was dit weer die berg af met die trein en kon ons toe die Spoorwegmuseum besoek. Dit was baie interessant om te sien hoe motors, ambulanse, rolstoele en draagbare vroeër in die eeu gelyk het. Daarna het ons strand toe gegaan, waar ‘n paar dapper siele die koue water aangedurf het. Ons het die middag ook met ‘n boot van Mosselbaai hawe na Robbe-eiland gevaar. Die eiland was vol robbe en het vreeslik gestink. Ons toergids het nogal genoem dat die reuk goed was vir ons sinusse! Ek wonder nog oor daardie een. Die dag was afgesluit met ‘n swem in ‘n warm swembad.
Woensdag was die hoogtepunt van ons toer en ons moes baie vroeg opstaan. Ons het eers die Kango-grotte besoek en ‘n opvoedkundige DVD gekyk. Vol waagmoed het ons die grot aangedurf. Dit is onbeskryflik mooi en so groot dat ek kan verstaan dit oor duisende jare gevorm het. Ons moes deur allerhande nou spasies wurm, wat mens nogal benoud laat voel het. ‘n Paar van ons het ons koppe teen die klippe gestamp en daar was knoppe en knoppe, maar die moeite wewrd!!! Van die grotte het ons na die Wilgewandel vakansieplaasgery, waar ons heel eerste geleer het om goeie leiers te wees. Ons het ook van die kulturele agtergrond van verskillende swart stamme geleer. Die hindernisbaan wat ons moes aanpak was ‘n groot uitdaging, wantons moes as ‘n span saamwerk en die dogters het die seuns oortuigend geklopin ‘n “vriendelike” kompetisie. ‘n Kameelrit het die besoek aan Wilgewandel afgesluit.
Uiteindelik het die langverwagte besoek aan ‘n volstruisplaas aan die beurt gekom, waar ons van volstruise geleer het en ook gesien het hoe groot die eiers was. Ons get die geleenthied gehad om die gulsige voëls te voer en ‘n paar van ons kon ook op hulle ry. Dit was regtig groot pret en so het ons dag tot ‘n einde gekom.
Ons het Donderdagoggend ons gasheer by De Denne gegroet en die lang pad huistoe aangedurf. Baie geluk aan Monique van Rensburg wat die prys by De Denne gewen het met haar optrede tydens die toer. Dit was werklik ‘n avontuur wat niemand van ons sal vergeet nie. Baie dankie aan mnr. Hendrik van rensburg wat ons toerleier was, vir al sy moeite , sorg en beplanning. Ons het geleer, gegroei en dit baie geniet.
Clarisse Fourie Gr. 7A