VCSV

Die VCSV by Naudeville reik uit en gee om !

Gedurende die derde kwartaal het die VCSV hul jaarlikse gemeenskapsprojek in samewerking met Mej. Welkom, Mariza Delport, aangepak. Daar is besluit om nie-bederfbare kos in te samel, asook klere en skoene vir kinders van min of meer 10 tot 12 jaar. Groot was die ouers en kinders se reaksie en die kos en klere het ingestroom! Werklik die hoeveelheid kos en klere wat ingesamel is, het ons verwagtinge ver oortref.
Ons is so dankbaar teenoor u as ouers wat u harte en hande oopgemaak het en in so ‘n groot oorvloed gegee het. Hierdie kos en klere is op Woensdag 21 September tydens die VCSV lentetee aan Mev. Hantie Badenhorst oorhandig. Sy is betrokke by House of Prayer hier in Welkom, wat ‘n groot behoefte het aan kos en klere vir minderbevoorregte kinders. Dit was vir ons as Naudeville VCSV ‘n groot voorreg om hierdie noodsaaklike lewensmiddele te oorhandig. Sonder u as ouers van Naudeville sou dit nie moontlik gewees het nie en ons dank ons Hemelse Vader vir omgee-ouers soos u !